Frustrasies – kommunikasie – whatever

Van die dag wat Johan begin kla het van pyn het ons in werklikheid die pad begin stap met die Groot K. En van daardie dag af – so automaties – het ek die skoene betree van die versorger, navorser, voorstelmaker, ondervrager, bakleier … (en moet vir geen oomblik dink dat Johan net agteroor gesit het nie – hy het steeds – deur die uitmergelende pyn – sy besigheid bestuur, sy vrou se vreemde maniertjies hanteer, en elke dag trotseer en oorwin op die manier wat hy die beste gevind het)

In hierdie hele proses was my grootste frustrasie die dokters en hulle gebrek aan kommunikasie en die feit dat hulle nie werklik meer luister nie. Ek dink vir ons – die gewone plebs wat nie mediese grade het nie – is dit reeds moeilik om ons bekommernisse te verwoord, want deur jou intiemste seer/siek hardop te ‘bely’ aan ‘n persoon wat eintlik maar ‘n vreemdeling is – maak jy jouself weerloos. Die ondersoeke knyp aan jou menswaardigheid.

Hier waar ek nou sit en tik, wens ek ek kan na elkeen van daardie dokter gaan en hulle aan hulle strotte gryp tot hulle ook pyn soos my man pyn. Want deur hulle nalatigheid, het my man onnodig deur verlengde hel gegaan.

Eers die huisdokter wat Johan vir die eerste keer gaan sien het. Wat my tot vandag toe dronkslaan, is die dag toe hy teenoor Johan erken het dat hy nou nie verder weet nie, en ons so half in die lug laat hang het. En die eerste gedagte wat my getref het – toe Johan met kanker gediagnoseer was – hoekom het hulle nie van die begin af gekyk daarvoor nie?

Die Oor Neus en Keel spesialis wat gereken het Johan het ‘n koorsblaar op die stemband – waar was sy kop? Die internis wat 3 maande – nadat die pyn begin het – ‘n diagnose van akute keelinfeksie gemaak het – regtig? En boonop vir my laat voel asof ek ‘n imbesiel is.

Na al hierdie pelava, het ek vir Johan oortuig om na ‘n ander dokter te gaan en uiteindelik is daar werklik gedoen wat gedoen moes word, alhoewel dit tot Desember gevat het om by ‘n diagnose uit te kom.

Maar deur dit alles, die bloedtoetse, x-strale, medikasie en nuttelose ondersoeke is ons mediese fonds totaal en al uitgeput. Maar my man was nie gesond nie.

Maar deur dit alles het ‘n gedagte in my leekbrein ontstaan en dit is die volgende – dokters verwys na spesialiste en interniste – nie noodwendig wat die beter keuse vir jou is nie – maar, ek dink, na die met wie hulle ‘n wedersydse ooreenkoms het. Ek het ook vir myself uitgemaak dat hulle medikasie voorskryf van maatskappye wat hulle verkies, en dan ook nie noodwendig dit wat vir jou die beste is nie. Maar miskien is dit net omdat ek al so gefrustreerd was met die hele ding.

Want daar is sekerlik niks erger om ‘n geliefde te sien wat vreeslike pyn beleef, en maak nie saak hoe hard jy probeer, baklei, navors, voorstel en crusade nie – daar is absoluut niks wat jy kan doen om die pyn weg te vat en hom gesond te maak nie.

Lewer kommentaar